“ Dis olyftyd.....en dit beteken vars olyfolie vir die tafel, die slaaie, pastageregte, vis- en vleisgeregte! MAAR my bome het net een of twee olywe gedra! (foto is bewys van my drag) Ook maar dankbaar, want op die oomblik is die spreeus ‘n baie groot probleem...weens die droogte is daar nie baie vir hulle om te vreet nie en natuurlik is ander mense se bome gelaai met heerlike sappige swart en ryp olywe....dis net swart spatsels waar jy kyk! Maar dis net die eenkant van die saak. Die anderkant is, ek het geen olywe om in te le nie!!!
Olywe aard baie goed in Suid-Afrika.....ook op Vanrhynsdorp met ons kalkgrond....die van u wat al in Israel was, weet dat hulle kalkheuwels baie sterk ooreenkom met ons sin en sal ook weet hoe baie olyfboorde hulle het en vir hoeveel jare hulle al olywe oes. In die tuin van Getsemane wys hulle jou bome wat uit Jesus se tyd dateer. Mnr Piet Cillie van die plaas Rhebokskloof op Wellington word beskou as die vader van die olyfbedryf in SA. Maar soos almal van ons weet is ‘n rou olyf nie ‘n baie aangename vrug om te eet nie. Dis bitter en frank. Die olyf bevat ‘n substansie genaamd “oleuropein” wat dit die bittersmaak gee. MAAR hoe het mense honderde jare gelede uitgevind om dit eetbaar te kry? Een van die stories is dat agv die oneetbaarheid, die olywe in die see gestort is. 'n Strandloper het een opgetel wat lank in die seewater rondgedobber het, hy het dit geproe en die res is geskiedenis! Soutwater (brine) het die vermoe om die bitterheid uit olywe te trek. En hoe bly is ek vir mense met waagmoed!